|
Die Engelenburghuismuseum kan op afspraak vanaf Maandag tot Vrydag besoek word deur (012) 328-5082 te skakel - kontakpersoon Linda Brink.
DR. FRANS VREDENRIJK ENGELENBURG (17 MAART 1863 – 21 AUGUSTUS 1938) Koms na Suid-Afrika Frans Vredenrijk Engelenburg is in Arnhem, Nederland op 17 Maart 1863 gebore. Sy vader was Frans Thomas Vredenrijk Engelenburg, 'n regsgeleerde en sy moeder Anna Maria Koopmans, 'n skoonsuster van die bekende Maria Margaretha Koopmans-De Wet, 'n kultuurleidster en een van die eerste persone wat hulle vir die behoud van ou geboue in die Kaap beywer het. Sy skoolloopbaan het hy in sy tuisdorp, Arnhem voltooi, waarna hy aan die Universiteit van Leiden in die regte studeer het. In 1887 op 24-jarige leeftyd, promoveer Frans Vredenrijk in regsgeleerdheid aan die beroemde Universiteit van Leiden, Nederland. Hy praktiseer daarna as advokaat in s'Gravenhage. In dié tyd was hy ook joernalis en korrespondent vir verskeie blaaie in Frankryk. In 1889 besluit hy om na Suid-Afrika te kom. Hy besluit om hom hier te vestig. Hoofredakteur van "De Volksstem" Weens 'n sameloop van omstandighede word die hoofredakteurskap van De Volksstem aan dr. Engelenburg aangebied vir die koninklike som van £25. Dit was die begin van 'n skitterende loopbaan wat, met die uitsondering van die oorlogsjare en 'n tydjie daarna, onafgebroke gestrek het tot 1924. Die aanstelling van dr. Engelenburg as derde agtereenvolgende hoofredakteur van De Volksstem, het die begin van 'n nuwe tydperk beteken. Finansieel is die koerant ná die dood van Jonker, Engelenburg se voorganger, op 'n stewige grondslag geplaas. In 1897 het Engelenburg eienaar van die blad geword en was tot sy dood direkteur. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog Met die uitbreek van die oorlog was dr. Engelenburg onder die eerstes wat met die kommando's die Natalse grens oorgetrek het. Die Kruger-regering het egter gemeen dat hy beter dienste aan die saak van die Republieke kon bewys deur 'n velduitgawe van sy blad die lig te laat sien, met die titel Volkstem te Velde. In 'n spoorwegtrok van die NZASM is 'n drukkery van Pretoria na die oorlogsfront gestuur en het dr. Engelenburg op 'n trap-pers 'n daaglikse uitgawe uitgegee. In hierdie velduitgawe het hy oorlogsnuus aan die burgers bekendgemaak, terwyl hy die gewone uitgawe van sy koerant met nuus aangaande die slagvelde voorsien het. Hy het ook opgetree as korrespondent van oorsese nuusagentskappe en van verskeie Europese blaaie. Met die oorgawe van Pretoria in 1900 het Engelenburg hom van die oorlogsfront af na die hoofstad teruggehaas. Dr. Engelenburg se huis (toe nog in St. Andriesstraat), is ook deursoek en op grond van 'n leë bandolier wat die vyand gevind het, is hy in hegtenis geneem. Hy word na Stellenbosch verban, waarna hy en sy jarelange vriend en vennoot, Izaak Wallach, toestemming verkry om na Europa uit te wyk. Engelenburg's Folly – Het Witte Huis – Engelenburghuis Voor die Tweede Vryheidsoorlog het dr. Engelenburg in Pretoria in St. Andriesstraat (later Andriesstraat genoem) gewoon. Net voor die uitbreek van die oorlog in 1898 het hy drie erwe teen die hang van Meintjieskop van die weduwee Anna Christina Elizabeth Ziervogel gekoop. Die gewelwoning waarin dr. Engelenburg hom na die oorlog gevestig het, hoog teen die hang van Meintjieskop, is 'n sprekende bewys van sy wellewendheid en oog vir skoonheid met tegelyk sy fyn aanvoeling vir toekomstige uitbreiding en goeie belegging. Toe die huis in 1903 gebou is, het dit buite die dorp alleen gestaan. Die inwoners van Pretoria het lank daarna as "Engelenburg's Folly" (Engelenburg se gekheid) verwys. Mettertyd is na die huis as "Het Witte Huis" verwys. Later sou die Uniegebou en die deftige woonbuurt Bryntirion agter hom verrys en suid daarvan, Arcadia. Engelenburg se betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns In Julie 1909, tydens 'n kongres in Bloemfontein waarheen afgevaardigdes van die Kaapprovinsie, Transvaal, die Vrystaat en Natal uitgenooi is, word besluit om De Zuid Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst in die lewe te roep. Dertig stigterslede is op dié kongres aangewys waarvan dr. Engelenburg een was. Vanaf Julie 1910 tot Julie 1911 het hy in die Akademieraad gedien en weer vanaf Julie 1912 tot September 1915. Agt jaar later word hy tot voorsitter van die Akademie verkies (Februarie 1923 tot Oktober 1925) en weer vanaf Oktober 1930 tot Oktober 1932. Later verander die naam van die Akademie na Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy huwelik In 1924 tree dr. Engelenburg, 'n verstokte oujongkêrel, op 61-jarige ouderdom in die huwelik met die 41-jarige Lorraine Amelia Bernice Marguerite Halliday, gebore in Londen, Engeland. Haar ouers was Amerikaners. Dit is nie bekend of Lorraine in Engeland of in Amerika opgegroei het nie. Mev. Engelenburg is op 20 Januarie 1932 op 48-jarige ouderdom in die teenwoordigheid van haar eggenoot oorlede. Dit was 'n geweldige slag vir hom. Kort na haar dood het hy 'n ligte beroerte-aanval gehad en hy het sigbaar verouder. Op mediese advies het hy per boot na die Verenigde State gereis waar hy vir ses weke lank in die Johns Hopkins-hospitaal in Baltimore behandeling ontvang het. By sy terugkeer in Kaapstad het sy goeie vriend, Louis Leipoldt, vir suster L.G. Liesching gevra om dr. Engelenburg op die treinreis na Pretoria te vergesel en op te pas. By "Het Witte Huis" aangekom, het dr. Engelenburg haar oorreed om langer aan te bly. Sy het hom verpleeg tot sy dood. Sy dood Dr. Engelenburg het nooit werklik van die beroerte-aanval herstel nie. Hy het hom van alle openbare verpligtinge onttrek en stil tussen sy boeke, kunsvoorwerpe en oudhede gelewe waar hy gereeld deur sy intieme vriende besoek is. Ses maande voor die einde het dr. Engelenburg weer 'n ligte beroerte-aanval gehad wat hom 'n finale terugslag gegee het. Hy is op 21 Augustus 1938 in sy slaap oorlede. Testament In sy testament het hy die grond met die daarop geleë geboue en verbeteringe aan die regering van die Unie van Suid-Afrika nagelaat – uit dankbaarheid vir wat Suid-Afrika vir hom beteken het. Aan die kunsmuseum in Joubertpark, Johannesburg, het hy sy beste skilderye, familieportrette uitgesonder, bemaak. Buiten die bogenoemde bemaking, asook 'n kroonkandelaar wat in sy huis gehang het en aan die Kasteel in Kaapstad terugbesorg moes word, was sy enigste erfgename sy twee broers se vyf kinders wat in Nederland gewoon het. Al die geld wat uit die verkoop van die boedel verkry is, is in gelyke dele aan sy broers se kinders oorbetaal. Deur die beywering van goew.genl. E.G. Jansen het die regering die waardevolle inhoud van die woning teen £2000 van die boedel gekoop en is 'n gedeelte van die huis as 'n museum ingerig. Die onkoste vir die instandhouding en uitstal van die versameling sou vir die rekening van die Regering wees. Die museum is onder die kuratorskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geplaas. Later het die huis en sy inhoud die eiendom van die S.A. Akademie geword. Die huis met sy versameling kosbaarhede is 'n verklaarde kulturele inrigting. Die gedenkpoort op die hoek van Hamilton- en Ziervogelstraat is ter ere van dr. Engelenburg opgerig. Dit is deur Gerard Moerdijk ontwerp en die geld is deur Izaak Wallach, dr. Engelenburg se jarelange vriend en vennoot, beskikbaar gestel. Die gedenkpoort is in 1953 deur goew.genl. E.G. Jansen onthul. Akademiekantoor Die Akademiekantoor is in 1948 na Engelenburghuis oorgeskuif en later is 'n tydelike gebou op die grond opgerig vir ekstra spasie. Toe dit ook te klein word, is die Akademiegebou in 1984/85 opgerig. Finansiële druk het die Akademie egter genoodsaak om die stuk grond wat aan Hamiltonstraat lê, te verkoop waarop Commission House vandag staan. Die poort in Edmondstraat is van onder af verskuif tot waar dit nou staan. In 1998 is die Akademiegebou aan die Zambiese regering verkoop wat dit as 'n ambassade ingerig het. Die oostelike gedeelte van Engelenburghuis is weer in kantore omskep en in Mei 2000 het die Akademiepersoneel, wat drasties verminder is, hulle intrek in die huis geneem. Die argief van die Akademie met dokumentasie wat vanaf 1909 dateer, is in 1998 na die argief by die Universiteit van die Vrystaat gestuur waar dit tans bewaar word. Aanbouings Sedert Engelenburghuis in 1903 gebou is, is 'n paar keer by die huis aangebou. Die eerste is in 1922 gedoen toe die groot slaapkamer aan die noordekant van die huis aangebou is. Met sy komende huwelik in 1924 wou dr. Engelenburg die huis vir sy aanstaande bruid gerieflik maak. In die vyftigerjare is 'n kantoor aan die oostekant van die huis aangebou en ander klein veranderinge is aangebring vir die personeel van destyds. In 1998, met die inrigting van die huidige personeel in die huis is die oostekant weer eens vergroot. Kunsversameling Dr. Engelenburg was by uitstek 'n wêreldreisiger en het kunsskatte uit onder meer die Ooste versamel. Van dié kosbaarhede sluit in verskeie Chinese vase, 'n groot versameling porselein, 'n swaar, soliede kas in vroeg Vlaamse styl met housnywerk in palissander- en ebbehout, 'n seldsame skryfburo met inlegwerk en golwende frontleeupote wat dagteken van die agttiende eeu, 'n ewe-eens seldsame bewaarkissie van stinkhout op 'n gegroefde houtvoetstuk en met Kaapse silwerbeslag deur J.H. Vos en 'n riempiestoel met stinkhout met die Engelenburg-familiewapen. Daar is ook talle skilderye, waarvan heelwat van Erich Mayer en Frans Oerder. Na aanleiding van 'n intensiewe ondersoek en verslag deur verskeie kunskenners, onder andere ook lede van die Akademie se Kommissie vir Visuele Kunste, is 'n restourasieprojek geloods waar enkele van die oudste meubelstukke aan die beurt gekom het. Die museuminhoud is herrangskik om 'n meer logiese uitstalling volgens periodes in die geskiedenis te verteenwoordig. Die skoonmaak en restourasie van die versameling gaan deurentyd voort. |