|
GESOEK: EWEWIG OOR DIE VERLEDE - Pieter Kapp
Die pendulum in die onderrig van Suid-Afrikaanse geskiedenis op skool het geswaai van ‘n eensydige beklemtoning van die blanke se rol na ‘n eensydige beklemtoning van die swart bevrydingstryd. Dit is hierdie werklikheid wat die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns die afgelope jaar besig gehou het. Daar is in beginsel besluit dat ‘n veel meer ewewigtige weergawe en interpretasie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis nodig is as wat tans in sowel die skoolsillabus as in publikasies vir skoolgebruik, soos die reeks van ses boekies onder die titel Turning Points, moontlik is. Die dertiende Geskiedenisberaad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is juis vir dié doel op 26 Januarie 2007 in Pretoria gehou. Die tema was: Die skryf van ‘n gebalanseerde geskiedenis van Suid-Afrika. ‘n Sterk akademiese groep van 42 historici en onderwysers, asook ‘n aantal ander belangstellendes, het aan dié jaarlikse byeenkoms deelgeneem. In ‘n belangrike opsig verteenwoordig hierdie byeenkoms ‘n hoogtepunt in die reeks van dertien berade wat sedert 1994 deur die Akademie aangebied is. Die eerste een het gehandel oor die opstel van ‘n balansstaat van Afrikaanse wetenskaplike geskiedskrywing. ‘n Aantal sterk en swak punte is geïdentifiseer met ‘n aanduiding van ‘n aantal nuwe navorsingsterreine wat betree moet word. Sedertdien is heelwat hieraan gedoen aan HAU’s, in besonder ten opsigte van die kontemporêre Suid-Afrikaanse geskiedenis, ekonomiese geskiedenis en swart en ander nie-wit groepe se politieke en sosio-ekonomiese geskiedenis. Nog ‘n Beraad het oor leemtes in die navorsing in ander tale as Afrikaans gehandel. Daar is bevind dat Anglo-Saksiese en Europese studente en navorsers haas geen kennis neem van die belangrike navorsing wat in Afrikaans gedoen word nie. Om in hierdie leemte te help voorsien, is die bibliografie van 4500 historiese werke in Afrikaans opgestel en op laserskyf uitgegee. Dit is tans in die handel beskikbaar via die Akademiekantoor. Soortgelyk is die publikasie Die Suid-Afrikaanse verlede en die skuldvraagstuk wat die tema van die sewende Beraad was en wat eintlik noodsaaklike leesstof moes gewees het vir diegene wat die nuwe sillabus opgestel het en die nuwe publikasie hulpmiddels vir skole bepaal het. In Die Skuldvraagstuk word ‘n reeks beginsels uitgestip waaraan ‘n gebalanseerde weergawe van die Suid-Afrikaanse geskiedenis getoets kan word. Vanjaar se Beraad het kennis geneem van die onvermoë om dié beginsels in die praktyk toe te pas. Daarom is besluit om self die verantwoordelikheid te aanvaar om by wyse van ‘n reeks kleiner publikasies oor aktuele historiese temas te demonstreer hoe hierdie soeke na ewewig in die praktyk gestalte kan vind. ‘n Sentrale vraag is inderdaad wat die keerpunte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis is. Maar ‘n kronologie wat hierdie keerpunte buite verband tot die verloop van ‘n ingewikkelde historiese proses uitlig, soos tans gebeur, kan kwalik as ‘n ewewigtige interpretasie beskou word. Vier sprekers het op die Beraad verskillende aspekte hiervan toegelig. Prof. Albert Grundlingh, voorsitter van die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch en skrywer van die boek Die Hensoppers en joiners. Die rasionaal en verskynsel van verraad (HAUM, Pretoria, 1979 en pas in Engels gepubliseer) het die aandag gevestig op twaalf regstellings van die soort wanpersepsies oor die Suid-Afrikaanse verlede wat tans by die algemene publiek ingedril word. Hy het dit genoem Twaalf dinge wat elke seun en dogter oor die Suid-Afrikaanse verlede behoort te weet: - Apartheid is nie iets wat in 1948 uit die lug gegryp is nie, dit het ‘n lang historiese verloop wat nie aan Afrikaners alleen toegeskryf kan word nie.
- Apartheid is en was nooit nazisme nie.
- As apartheid in die sestigerjare in Suid-Afrika afgeskaf sou gewees het, sou Suid-Afrika nie noodwendig vandag anders gelyk het nie.
- Die ANC se geskiedenis is nie een groot suksesverhaal nie. Teen die veertigerjare was die ANC ‘n swak en onbenullige organisasie.
- Die ANC was nie bloot ‘n frontorganisasie van die Kommunistiese Party nie.
- Swartes se geskiedenis is nie deur die blankes, en in besonder in die Afrikaanse geskiedskrywing, geïgnoreer of doelbewus verswyg nie. Bogenoemde bibliografie toon duidelik hoeveel aandag Afrikaanse geskiedskrywers aan nie-wit geskiedenis gegee het.
- Die idee van ‘n nie-rassige samelewing klink goed, maar het weinig neerslag in die werklikheid gevind.
- Die beeld van die blankes as bloot welgestelde onderdrukkers klop nie met die historiese werklikhede nie. Armblankes is ‘n deel van Suid-Afrika se geskiedenis.
- Afrikaners se oordrewe skuldgevoel oor die verlede mag hulle dalk laat dink dat dit hulle aanvaarbaarder maak in die teenswoordige Suid-Afrika, maar in der waarheid het dit niks met die geskiedenis te doen nie.
- Die propaganda wat versprei word dat die grensoorlog nie ‘n populêre oorlog was nie, is misleidend. Die meeste Suid-Afrikaners het geglo dat die oorlog noodsaaklik was.
- Geskiedenis bied nie finale afgeronde antwoorde nie, maar eerder beelde van hoe kompleks sake en verhoudinge is.
- Daar moet eerder op die lewenservaring van gewone mense gekonsentreer word as op die rol van politieke institusies en bewegings omdat gewone mense se ervaringe getuienis is van wedersydse interafhanklikheid.
Prof. Japie Brits van die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van Suid-Afrika en skrywer van Op die vooraand van apartheid: die rassevraagstuk en die blanke politiek in Suid-Afrika 1939-1948 (Unisa, Pretoria, 1994) het die behoefte aan ‘n behoorlik histories verantwoorde kronologiese indeling van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in tydperke beklemtoon. So ‘n indeling moet gebaseer wees op gewone mense se ervaring van gebeure op voetsoolvlak. Daarom het hy ‘n makro-indeling voorgestel wat gebeure wat ‘n ingrypende heroriëntering van die mense van Suid-Afrika vereis het, in die sentrum plaas. Dit het voorsiening gemaak vir die pre-literêre tydperk, die tydperk van omwenteling in die sewentiende en agtiende eeu, die tydperk van grootskaalse migrasies en hervestigings in die neëntiende eeu, die tydperk van blanke oppermag en die uitdaging daarvan in die twintigste eeu, en die tydperk van herskikking na 1994. Prof. Henning van Aswegen, emeritus professor in Geskiedenis aan die Randse Afrikaanse Universiteit en die skrywer van die suksesvolle holistiese geskiedenis van Suid-Afrika tot 1848, het weer voorstelle vir ‘n tematiese indeling voorgelê gerig op die hantering van omstrede en aktuele sake in die Suid-Afrikaanse verlede. Die groepbespreking het ses sodanige temas geïdentifiseer: - Gemeenskapvorming in die Suid-Afrikaanse verlede van pre-literêre tye tot vandag. Hierdie tema bied die geleentheid om die hooftrekke van die geskiedenis van elke histories belangrike gemeenskap in Suid-Afrika van die vroegste tye tot vandag aan leerders voor stel en skep so ‘n geleentheid vir ‘n veel beter ken en verstaan van mekaar se historiese vorming.
- Die politieke ontwikkeling van Suid-Afrika van tradisionele stam- en groepstelsels tot republikanisme en kolonialisme tot vandag se moderne demokratiese grondwet. Hierdie tema bied die geleentheid om te beklemtoon dat die huidige politieke bedeling nie die werk van ‘n enkele vryheidsbeweging is nie, maar van ‘n integrerende historiese proses.
- Ekonomiese groei en arbeidsverhoudinge vanaf die bestaansekonomie van die jagter-versamelaars, deur die fase van ekstensiewe veeboerdery tot ‘n moderne landbou en nywerheidsland in ‘n globaliserende wêreld.
- Suid-Afrika en sy plek en perspektief in die wêreld – van afgesonderde handelspos tot lid van die Britse Ryk tot selfstandige plek in Afrika en die wêreld.
- Die mens en sy wêreld met klem op die vormende invloed van individue op die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die bedoeling is om dit tuis te bring dat dit mense, en veral sleutel figure wat nie oorwegend politieke of militêre leiers was nie, is wat die verloop van die verlede bepaal het.
- Laastens ‘n kort werk as inleiding tot die ontwikkeling van vaardighede in geskiedenis met toespitsing op die hantering van uiteenlopende interpretasies van gebeure sodat leerders bewus kan word van die veelkantigheid van die waarheid.
Prof. Alex Mouton, ook van Unisa , het gewys op die oorvereenvoudiging van die Afrikaner se geskiedenis wat deur verskillende groepe daargestel is of word. Die Afrikaner se rol is veel meer gevarieerd as wat selfs sommige Afrikaanse geskiedskrywers in die verlede aangedui het en wat nou nog meer eensydig voorgestel word soos veral duidelik uit die reeks Turning Points blyk. Mouton, wat biografieë oor Margaret Ballinger en Schalk Pienaar geskryf het, is tans besig met een oor FS Malan wat hom sterk met Afrikaanse belange geassosieer het. Hy was onder andere voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in die dertigerjare. Wat rasseverhoudinge betref het hy tot aan sy dood in 1941 gereeld bedenkinge uitgespreek het oor die rigting waarin rasseverhoudinge in Suid-Afrika beweeg het. Deelnemers aan die Beraad het ook ander moontlike opsies genoem. Daar was die gedagte dat daar ‘n dringende behoefte bestaan aan ‘n sterk akademies-begronde reeks om die aktuele strydkwessies in die Suid-Afrikaanse geskiedenis uit verskillende hoeke te bekyk. Dit kan gedoen word deur verskillende interpretasies van bepaalde ontwikkelinge of gebeure in ‘n vergelykende perspektief te bespreek. In die VSA word die metode besonder suksesvol aangewend met hulle reekse oor Problems in American History, Problems in World History en Problems in European History. Geskiedenis as propaganda het ook aandag gekry. Sprekers het daarop gewys dat wat vandag in die naam van toerisme aangebied word, dikwels propagandistiese geskiedenis is waaraan dringend aandag gegee behoort te word. Hierdie propaganda, wat sterk in die media en die politiek aangewend word, word gebruik om ‘n negatiewe gesindheid by blankes en Afrikaners teenoor hulle rol in Suid-Afrika te stimuleer. Daarom moet op sodanige propaganda gereageer word met meer populêre publikasies wat vir Jan-Alleman toeganklik sal wees en nie net in skool klaskamers gebruik word nie. Die voorsitter van die Geskiedeniskommissie, prof Fransjohan Pretorius van die Universiteit van Pretoria, het beklemtoon dat dit nie die bedoeling van die projek is enige vorm van propaganda te bevorder nie en ook nie om enige spesifieke werk of interpretasie van die geskiedenis teen te staan nie. Die doel is net om die basis te lê vir ‘n verantwoorde en verantwoordelike omgang met die verlede van die totale Suid-Afrikaanse samelewing. Deur die volwasse erkenning van elkeen se waardigheid, rol en bydrae, én sy tekortkominge en foute, kan die soort toleransie en wedersydse aanvaarding en begrip ontwikkel word waarsonder die demokratiese eksperiment in Suid-Afrika nie kan slaag nie. Dit is aan die Geskiedeniskommissie opgedra om die kronologiese en tematiese benaderinge in ‘n reeks onderwerpe te versoen en om historici te mobiliseer om die werke te laat verskyn. |