|
Opmerkings by die bekendstelling van Sleng Riaan Cruywagen: 29 Maart 2007
Dit is vir my 'n aangename voorreg en 'n groot eer om by hierdie geleentheid as gasspreker op te tree. Toe my goeie, geleerde vriend Anton Prinsloo my 'n paar maande gelede skakel met die uitnodiging, was my eerste gedagte dat dit vir 'n outeur waarskynlik verstandig is om iemand as spreker te nooi wat hom nie na die kroon kan steek nie. Kyk, ek kan baie dinge steek – ek kan 'n dop steek, die draak steek, selfs eendag lepel in die dak steek – maar vir Anton na die kroon probeer steek? Nooit! Die verskil tussen hom en my is die eenvoudige waarheid dat hy 'n gedugte taalwetenskaplike, deurwinterde leksikograaf, verbysterende taalkenner, gevierde outeur en onderhoudende verteller en humoris is – terwyl ek weinig meer as 'n taalliefhebber is... weliswaar met 'n paar dekades se uitsaai-ervaring agter die blad, en (durf ek dit self sê?) geseën met 'n goeie humorsin (wat maar selde kans kry om deur die skanse van die swaarmoedige erns van die aandnuus op televisie te breek.) Dit is ons gedeelde liefde vir Afrikaans en die jare wat ons as uitsaaikollegas en KTA-lede saam deurgebring het, wat mettertyd 'n hegte vriendskap tussen ons gesmee het. Ek het Anton leer bewonder om die onopgesmukte, vriendelike en suiwer Afrikaans wat soos goue ponde van sy tong afrol en uit sy pen vloei. (Eintlik wou ek sê ek het hom daarvoor liefgekry, soos Dawid vir Jonatan – maar netnou verstaan iemand my verkeerd, al hét ek nog nêrens iets teëgekom wat daarop dui dat daar iets onbehoorliks in dié twee Bybelse figure se toegeneëntheid jeens mekaar was nie!) Een van Anton se innemendste eienskappe is sy beskeidenheid. Hy is totaal onpretensieus en doen hom nie anders voor as wat hy is nie. Die man met wie jy te doen het, is die Ware Jakob. Dit het al gebeur dat ek hom met 'n moeilike taalnavraag nader waarop hy nie onmiddellik afdoende kon antwoord nie – en dan het hy sonder meer gesê: "Jong, ek weet nie; maar laat ek gou vasstel." En dan duik hy met sy neus in sy arsenaal woordeboeke in (wat strek van Der Grosse Duden tot die Handwoordeboek vir Taalverwarde Besoekers aan Babel... of so iets). Kort voor lank lui die telefoon, en Anton gee die beloofde uitsluitsel. Sy verstommende insig en kennis was – en is steeds – vir my by TV-nuus onmisbaar, en ek beproef waarskynlik gereeld ons vriendskap tot die uiterste toe wanneer ek hom tydig én ontydig lastig val om leiding. Maar wanneer hy die telefoon vir 'n rukkie neersit en ek hoor hoe hy in die agtergrond vrolik fluit terwyl hy 'n ding naslaan, wéét ek Anton help 'n mens met graagte. Anton Prinsloo se publikasies is sonder uitsondering lekker leesstof. Dié van u wat Feite, Flaters, Fiksie en Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom al gelees het, sal weet waarvan ek praat. Dit is vir my aangenaam om vanaand sonder vrees vir teëspraak te kan verklaar dat Sleng die lekkerlees-tradisie in die sjarmante Prinsloo-styl voortsit. As ek vir u sê dat ek my ledige oomblikke graag verwyl deur 'n tweetalige of 'n verklarende woordeboek te sit en lees, sal u begryp dat Sleng vir my 'n leesavontuur is soos 'n nuwe Harry Potter-boek vir sommige ander mense! Sleng kon nie op 'n meer geleë tydstip die lig gesien het nie. Of Anton maar net weens sy oplettende geaardheid die leemte in die mark raakgesien het, weet ek nie. Dalk is die weg gebaan toe die Taalkommissie in die jongste uitgawe van die AWS in 2002 die eerste keer aan Omgangsafrikaans erkenning verleen het, deur in 'n afsonderlike lys sowat 500 woorde op te neem wat gebruik word in "die Afrikaans wat moedertaalsprekers in gemoedelike omgang met mekaar praat". Hoe dit ook al sy – vir mense wat erns maak met hulle Afrikaanse taalgebruik, gaan Sleng 'n onontbeerlike plek in die boekrak inneem. Almal weet dat die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns die hoogste Afrikaanse taalgesag in die land is, en dat die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls dit primêr ten doel het om die spelling van woorde te bereël. In die voorwoord tot die jongste AWS staan die volgende baie belangrike sin: "Dit is bloot natuurlik dat die woordeskat en uitspraak van 'n dinamiese taal soos Afrikaans mettertyd sal verander." 'n Mens hoef maar net jou ore in geselskap te spits om die waarheid van dié stelling te besef. Afrikaans is in dié opsig natuurlik nie uniek nie. In die voorwoord tot die Nederlandstalige Bargoens Woordenboek staan daar: "Alle democratisering van de laatste honderd jaar ten spijt, is het spreken van 'Algemeen Beschaafd Nederlands' nog steeds een signum. De volkstaal wordt geacht de minne taal der meerderheid te zijn, en vooral de volkstaal van de grote steden heeft als 'platte taal' tot nu toe meer de aandacht van literatoren dan van dialectologen gehad." Laat my toe om nog 'n stukkie uit die voorwoord van die Bargoens Woordenboek ter wille van ons Afrikaanse ore vry uit Nederlands te vertaal: "Die omgangstaal van die groot stedelike gebiede het 'n aansienlike woordeskat, wat maar net gedeeltelik in handwoordeboeke opgeneem is. Daardeur word 'n skewe voorstelling van die werklikheid gegee, wat vir woordeboekgebruikers alhoe opvallender word namate Algemeen Beskaafde Nederlands ooglopend deur die volkstaal beïnvloed word – verál deur die toedoen van jeugtaal, kabaret, joernalistiek, en radio en televisie." U kan seker aanvoel waarop ek afstuur: Omgangsafrikaans is, soos de volkstaal in Nederlands, 'n veel sterker faktor wat die koers van Standaardafrikaans in die toekoms gaan beïnvloed as wat baie mense besef (en as wat die taalpuriste sou wou hê). Sleng word om ons gepraat, geskryf en uitgesaai. Die vraag is net – wanneer verryk dit Afrikaans en wanneer verarm dit ons taal? Kan moedertaalsprekers nog onderskei tussen Standaardafrikaans en Omgangsafrikaans? Die grens is besig om te vervaag. Daar was 'n tyd toe ons spottend gesê het dat 'n mens moderne Nederlands slegs kan verstaan as jy 'n deeglike kennis van Engels het, só deurspek die Hollanders hulle taal met Engelse woorde... ook in hulle TV-programme, oor die radio en in die pers. As ek 'n slag wou lag, het ek eenvoudig op die Nederlandse TV-kanaal op DStv ingeskakel, veral om na hulle nuus te kyk – nie soseer om die inhoud as om die taalgebruik nie. Maar, "spotter se huis brand óók af," lui die spreekwoord. En dit is só waar – want daar trap moderne Afrikaans nou in dieselfde slaggat as sy ou moeder, Nederlands. En ek lag nie meer vir die gekke Hollanders nie; ek bloos en kners op my tande ten aanhore van wat met my eie moedertaal gebeur. Gewoonlik maak ek Maandagoggende my braairooster skoon met 'n ongeleeste byvoegsel tot Beeld, genaamd Jip. Omdat ek nie verlede Sondag vleis gebraai het nie, kon ek dié tienerblaadjie lees met die oog op vanaand se toespraak. 'n Mens moenie die boer die kuns afvra nie, maar ek wonder tog heimlik of Jip nie dalk die eintlike inspirasie vir Anton se nuwe boek was nie. In 'n rubriek wat vermoedelik as Jip se hoofartikel beskou moet word (en wat inhoudelik nogal nie onaardig is nie), het ek die volgende frases raakgelees: ...jy snuggle dieper onder die komberse in... ...pannekoek sal nou lekker wees. En hot chocolate, dankie... ...jy raak uit touch uit met jouself... ...as die rat-race te rof raak... ...iets wat jou laat dink aan ultimate bliss... ...'n vriend wat vir jou 'n compilation CD maak... ...elke track is spot-on... ...uit die bed gesleep het om te gaan gym... ...om 'n nuwe boek aan te pak en te weet dat dit 'n great read gaan wees.. ...ek vrek oor chamomile of peppermint-tee... ...kombineer dit met vanilla-kerse en bubble bath... Dit was nie nodig om verder te lees nie. Ek besef terdeë dat dit 'n bylaag vir tieners is en dat dit geskryf word soos hulle praat. Maar wat is die magiese aantrekkingskrag van Engels wat veral die jonger geslag blykbaar só bekoor, dat hulle beswaarlik 'n sin in Afrikaans kan uiter sonder om dit met Engelse woorde te deurspek? Skryf die koerant só omdat dit is hoe die jongmense praat, of praat die tieners só omdat dit is hoe die koerant vir hulle skryf? 'n Hoender-of-eier-situasie, lyk dit my. Die feit is egter dat ons moet kennis neem hiervan, want dit is die werklikheid óm ons. Tóg wil ek my verstout deur te sê dat selfs die stoere en gedugte taalman, wyle L.W. Hiemstra, dalk 'n byvoegsel soos Jip sou geduld het omdat dit vir 'n baie spesifieke teikengehoor bedoel is en hopelik van die jongklomp gereelde koerantlesers sal help maak. Máár aan die ander kant sou Hiemstra verseker het dat die hoofkoerant dan in onberispelike, foutlose Standaardafrikaans gepubliseer word. Dit lyk egter of die Afrikaanse taalwagte by die media deesdae laat slap lê, óf eenvoudig nie meer van beter weet nie – en dit geld nie net die gedrukte media nie, maar sekerlik ook die radio en televisie. Selfs die radiostasie RSG, wat vroeër jare as die Afrikaanse Diens die toonbeeld (ek was in die versoeking om te sê hoorbeeld) van gemaklike, Standaardafrikaans was, laat deesdae oogluikend toe dat die slengwaters sy taalakker oorspoel. 'n Mens kry die indruk dat die taalreëls wat vroeër so streng gegeld het, nie meer afgedwing word nie en dat elkeen min of meer kan skryf én uitsaai soos hy of sy wil. Waarom anders lees 'n mens dan in een enkele uitgawe van 'n Afrikaanse koerant dinge soos die volgende: Hy het die eerste man in Afrika geword om 'n kunsmatige abbahart, wat sy swak hartspiere weer kan leer "dans", te kry. • ...the first to – die eerste om... / die eerste wat... • kunsmatige hart? kunshart – soos kunsbeen • hartspiere? – is die hart dan nie 'n enkele spier nie? • hoe dans die hartspier(e)?) Vroeë aanduidings is dat rooftogte met verswarende omstandighede met meer as 40% gedaal het. • Early indications are... (woordelikse vertaling) Fotobyskrif: Zimbabwiese vlugtelinge betoog gister on der die vaandel van die Save Zimbabwe-veldtog by die Zimbabwiese hoë kommissie in Johannesburg. • High Commission – Hoëkommissariaat) (Met verwysing na seuns wat ingevolge die Wet op Kindersorg deur howe na 'n nywerheidskool gestuur is omdat hul ouers nie vir hulle kan sorg nie): Ander is deur kinderhuise hierheen gepos. • In koeverte met posseëls en pimpel en pers gestempel? Drie vissermanne het in die see beland waarvan twee gered is. •...van wie... Rattray se seuns was ook by die bekendstelling, asook talle bekendes, waaronder dr. Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP. • ...onder wie... Die BBC het geantwoord ... deur te sê program het die nodige balans gehad en was nie ten doel om 'n skewe beeld van Suid-Afrika te skets nie. • ...het dit nie ten doel gehad om... / ...het nie bedoel om... Dié tegnieke kan mettertyd 'n wye reeks van toepassings hê. • a wide range of applications / 'n wye reeks toepassings... Die studie fokus nie op die oneindige hoeveelheid keuses in alledaagse lewe nie. • ...in everyday life / in die alledaagse lewe... 'n Nuwe spesie luiperd is op die eilande van Borneo en Sumatra gevind. • ...the islands of Borneo and Sumatra / die eilande Borneo en Sumatra. Daar is ook 'n kantoor in Brussels • Brussel Kwessies oor gehalte en balans in die nuus word reeds aangespreek. • are being addressed / geniet reeds aandag, e.d.m. Dis genoeg wat die koerant betref. Maar ook by TV-nuus moet ons voortdurend op ons hoede wees... en soms korrigeer ek sommer so in die lees onhebbelikhede wat opduik – soos: in afwagting op (van); 'n beroep doen om iets (oproep); te danke aan (wanneer te wyte aan bedoel word); aan boord die vliegtuig (aan boord van); die aanranding van iemand (op); die moord van Bob Woolmer (op); 'n woordvoerder vir die minister (van); die Amerikaanse ambassadeur na Zimbabwe (in); ens. Dikwels besef joernaliste nie dat 'n direkte, woordelikse vertaling uit die Engels byna altyd 'n swak Afrikaanse sin tot gevolg het nie. 'n Berig moenie bloot vertaal word nie – dit moet in goeie Afrikaans herskryf word. Maar wag, laat ek terugkeer na sleng: Die reklameflitse op radio en veral televisie (dié wat hoegenaamd nog in Afrikaans opgeneem word) laat 'n mens gereeld na jou asem snak. Dis nie net verkeerde klemplasings nie, maar ook Engelse woorde wat klakkeloos uit die andertalige kopie oorgeneem word in sinne waarvan die oorspronklike konstruksie ooglopend Engels was. Daar is blykbaar nie meer 'n keurkomitee wat die taalgebruik in sowel die kopié as die opnames moet goedkeur nie, met die gevolg dat die adverteerders by monde van hulle reklamemaatskappye kan sê wat hulle wil, sóós hulle wil. Advertensies vol taalgruwels word ook dikwels in Afrikaanse dag- en weekblaaie gesien. Dit is jammer dat die redaksies weinig of geen beheer daaroor het nie. 'n Ander, groot gebruiker van sleng is die vermaaklikheidsbedryf. Op enkele uitsonderings na, sing Afrikaanse sangers blykbaar geen liedjies meer nie – net songs waarvan die lyrics incredible is. Hulle neem ook nie meer in 'n ateljee op nie, maar record met 'n band in 'n studio waar die producer check dat dit spot-on is vir die fans daar buite. En as hulle nie in die studio is nie, is hulle op stage waar die lighting, die make-up en die sound 'n show kan maak of breek. Ek sukkel om die kloutjie by die oor te bring wanneer dieselfde jongmense wat by implikasie hulle Afrikaanswees bely met 'n musikale versugting na 'n De la Rey, toelaat dat Engels soos klitsgras aan hulle moedertaal vatplek kry. Só help ons die uitbreiding van Engels aan ten koste van Afrikaans – en dit net omdat ons dink dit is cool. En so kan ek voortgaan... Engels is sonder uitsondering die wenner wanneer Afrikaans (of, wat dit betref, enige ander taal) daarmee deurspek, ontsier en verarm word. Ek hoor baie selde dat Engelssprekendes – hetsy in gemoedelike omgang met mekaar óf in formele kommunikasie soos nuusuitsendings of koerantberigte – vreemde invloede in hulle taalgebruik duld. Indien daar by hulle sprake is van 'n soort taal-meerderwaardigheid, vra ek myself af waarom óns dan bereid is om 'n minderwaardige of ondergeskikte plek in te neem? Lê dit aan ons onderwysstelsel, word daar tuis nie meer aan ons kinders die beste voorbeeld gestel nie, of is die media daarvoor aanspreeklik? Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is ontsettend dankbaar dat Afrikaans van sy beklemmende borsrok bevry is. Dankie tog – ons hoef nie meer hoogdrawend te wees en te sê "ek gaan poog om sonder bystand my hoed op my hoof te plaas ondanks die feit dat my hande deur kruideniersinkopies in beslag geneem word" nie. Dis nét sulke goeie Standaardafrikaans om te sê "ek gaan probeer om self my hoed op my kop te sit, al is my hande vol kruideniersware". Dis egter na my mening onnodig om te sê "ek gaan try om my hoed sonder assistance op te sit, 'cause why my hande is vol groceries." En gelukkig hoef die dominee nie meer Sondae te sê "die gemeente sit haar aangevange godsdiensoefening voort deur hartlik saam te sing uit Psalm 146" nie. Hy sê gewoon "kom ons sing hartlik saam tot eer van die Here uit Psalm 146". Ek twyfel egter sterk of hy sal sê "oukei, guys, die diens is opgestaart; kom ons laat wiel met Psalm 146". Vir mense wat erns wil maak met hulle Afrikaanse taalgebruik, is publikasies soos die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, tweetalige en verklarende woordeboeke, vakwoordeboeke, spreekwoordeboeke en dergelike, van onskatbare waarde. Vir diegene wat onseker is of bepaalde woorde of uitdrukkings substandaard is of nie, bied Anton Prinsloo en Pearson Education vanaand 'n welkome toevoeging tot elkeen se boekery met die bekendstelling van Sleng. Dit is nie my taak om hierdie genoeglike boek vanaand te resenseer nie. Omdat ek egter bevoorreg was om enkele weke gelede reeds 'n eksemplaar onder oë te kry met die oog op vanaand, wil ek tog 'n paar heerlikhede met u deel. Sleng is die eerste naslaanwerk in Afrikaans wat 'n redelik omvattende lys woorde en uitdrukkings uit Omgangsafrikaans bevat, én die herkoms van talle daarvan verstrek. Dit opsigself maak van Sleng 'n onmisbare publikasie. Die uitgewer sê tereg op die agterblad: "Die werk is gemik op taalpraktisyns, akademici, opvoeders en leerders wat die 'korrekte' Afrikaans vir hierdie soort taalgebruik soek. Maar dit is ook geskryf vir die man op straat wat aan die einde van die dag 'n bietjie ligte vermaak soek." Benewens die suiwer Engelse woorde en uitdrukkings in Afrikaanse sleng soos 'n motor wat backfire of 'n skoonma wat 'n backseat-driver is, bevat die boek uitdrukkings wat die wenkbroue van verbasing by sommige mense sal laat lig as hulle lees dat dit steeds as substandaard-Afrikaans beskou word – soos al die pad, terwyl die soortgelyke konstruksie al die tyd as goeie Afrikaans aanvaar word. Dit dui weer eens op die inkonsekwentheid van die taal.Ek het aan die begin gesê ek kan Anton nie na die kroon steek nie, maar ek wil gou met hom die draak steek. As 'n mens kyk na die inskrywing back-pedal (wat beteken retireer; van mening verander; in 'n argument skielik omswaai), sê die toeligting in Sleng: "Dit word gewoonlik gesê wanneer iemand 'n besliste standpunt ingeneem het wat dan omtrent dadelik gerepudieer word. Die oorsprong is 'n fiets met voetremme – die pedale word antikloksgewys getrap om te rem." Ja – mits jy die fiets van die regterkant af bekyk. Want bekyk jy die spulletjie van die linkerkant, trap daardie voete kloksgewys! Vir my lê die grootste pret van die boek egter in die herkoms van sleng-woorde en -uitdrukkings – dis Anton Prinsloo op sy onderhoudende beste, en illustreer die noukeurigheid van sy navorsing. 'n Mens kan die boek na willekeur oopslaan en jy sal 'n interessante inskrywing aantref – kyk byvoorbeeld na die volgende: polka dot (bl. 166) toast (bl. 212) lord (bl. 130) loodswaai (bl. 130) kant (bl. 112) son of a gun (bl. 196) lyne (bl. 132) koeël (bl. 117) kraai (bl. 121) Fanny Adams (bl. 67) Die versoeking is groot om nóg voorbeelde aan te haal, maar ek dink dis beter dat u liewer self gaan lees waar (om die uitgewer aan te haal) die haan en die bul in ‘n cock-en-bull-storie vandaan kom, en waarom die nitty-gritty van ‘n saak liewer verswyg behoort te word. Sleng is werklik ‘n omvangryke, deeglik nagevorste boek wat by sowel die ernstige taalpraktisyn as die gewone leser byval sal vind. Ek wens die outeur en die uitgewer van harte geluk met ‘n puik afgeronde, voortreflike publikasie. Ten slotte: By cliffhanger (die episode is 'n cliffhanger) lui die toeligting: "Gebruik in verband met 'n reeks programme op TV of radio waarvan 'n besondere episode spannend eindig." Die voorwoord tot Sleng eindig op 'n soort cliffhanger (of naelbyter). Die outeur bedank dr. Jan Esser onder meer "ook vir 'n pikante taalteorie oor die herkoms van Vlaams." Noudat hy ons almal aan die raai het, wonder ek net of ons vir die volgende, bygewerkte uitgawe van Sleng sal moet wag om te hoor wat dié teorie behels! |